You are currently viewing Finansieël Onverantwoordelik

Finansieël Onverantwoordelik

In sekere gevalle is dit net een ondeurdagte of impulsiewe besluit wat kan lei tot finansiële verknorsing.  Die enjin van ‘n tweedehandse motor wat na drie maande die gees gee, of ‘n huiskoop transaksie wat deur die mat val.  Genoemde situasies kan baie keer verstaan word en indien dit soos ‘n verlies hanteer word, kan baie daaruit geleer word. Maar wat dikwels gebeur is dat skuldmakerigheid oor ‘n lang tydperk erger en erger proporsies aanneem.  Of dit nou die aankoop van elektroniese of elektriese toerusting, of meubels, vergroting van oortrokke fasiliteite of bloot net die impulsiewe en aanhoudende gekoop van koek, lekkers en koeldrank is en of dit al persoonlike lenings is by geldskieters, die gevolge kan katastrofies wees.  Want baie maak skuld om skuld te betaal.  Indien hierdie onverantwoordelikheid skelm geskied, is dit natuurlik ‘n groot skok wanneer die balju opdaag of die kredietburo’s begin die lyne warm bel.  Dan is die kat uit die mou en ontkenning, verslaendheid, magteloosheid en hulpeloosheid is maar enkele van die gevoelens en emosies wat opborrel.

Indien die skade klein is, kan ‘n oop gesprek wat fokus op die deel van gevoelens, krisisbestuur en implementering van maatreëls om soortgelyke situasies in die toekoms te vermy, aangeknoop word.  Beter toesig oor die tjekboek of kredietkaart kan as voorbeeld dien.  Indien die skade egter enorm is, kan ‘n soortgelyke gesprek help, maar meer drastiese maatreëls behoort oorweeg te word:  Professionele persone soos ‘n prokureur (om aanbevelings rondom administrasie of insolvensie te maak), sielkundige (om onderliggende probleme aan te spreek byvoorbeeld die substitusie van liefde met geld), makelaar (om aanbevelings rondom afkoop van polisse, tweede huisverbande ens te maak), kan ingeroep word.

Die voordele is dat beter finansiële dissipline, maandelikse begrotings en gesamentlike besluitneming ‘n instelling kan word.  Die opbou van ‘n nuwe vertrouensverhouding (na emosionele ontlading en vergifnis) kan ook ‘n aanvang neem.

Verwysing: van der Walt, T. (2003). Finansieel onverantwoordelik. In Maartens, M. (Ed.). Die Groot Huweliksboek. (pp. 449-450). Pretoria: Lapa Uitgewers.